Ek is aangeneem as kind …

Kobus Muller het nooit geweet wat die volle waarheid van sy verlede is nie. Tog is hy omvou met die liefde en aanvaarding wat elke kind toekom.

As klein seuntjie was daar reeds baie dinge wat nie vir my sin gemaak het nie. Daar was byvoorbeeld nie een foto van my ma waar sy swanger is met my in enige van ons foto-albums nie. Sy het altyd gesê die foto’s is geneem toe sy swanger was met my broer. ” Op die ouderdom van 12 jaar het ek dinge uitmekaar begin pluis en my ouers het besef dat hulle nie langer die waarheid van my kon weghou nie. Ek is nie hulle biologiese seun is nie. Ek is aangeneem by geboorte. Ek was diep geskok. Daagliks het ek ’n innerlike stryd gevoer en honderde vrae gehad sonder enige antwoorde. My familiebande het skielik soos ’n klug gevoel en verhoudings met die mense na aan my het begin skeefloop. Ten spyte van my ouers se versekering dat hulle lief is vir my en dat ek hul geskenk van God is, het ek onseker en soekend gebly.

Daar was tye wat ek geweldig opstandig geraak het, maar hulle het my in liefde ondersteun en bygestaan. Musiek was nog altyd my passie en ek het my heeltemal oorgegee daaraan. Niks anders het vir my nodige gemoedsrus gebring nie en ek het besluit om myself daardeur te vind. Hierdie was ook nie ’n kortpad na selfaanvaarding nie. Talle musiekdeure is net eenvoudig in my gesig toegeklap. Jare se onderdrukte emosies het een aand soos ’n fontein uit my geborrel.

“Ek is alleen, ek voel soos ’n fout”, het ek uitgeskree en gehuil. Ek het later begin skryf aan ’n liedjie om van hierdie oorweldigende emosies ontslae te raak. Hierdie rou emosie het vorm aangeneem op papier en Maak dit nie seer is gebore. Ek het nooit moed opgegee nie. Na talle probeerslae en sangkompetisies, het ek Supersterre in 2007 gewen. Tydens die opname van my Alles en meer album, het ek besef dat ek ’n wonderlike gawe van God ontvang om kinders in soortgelyke situasies te help, en het by ’n paar kinderhuis-projekte betrokke geraak. Op die aand van Alles en meer se vrystelling was ek vir die eerste keer emosioneel gereed en gemaklik met my status as ’n aanneemkind. Ek het op die verhoog geklim en kon uit my hart opreg dankie sê vir my ouers vir die wonderlike en standvastige ouerhuis waarin ek groot geword het.

Terwyl ek “Maak dit nie seer” gesing het, het die emosionele damwal gebreek, en het ek in trane uitgebars. Elke keer wat ek sedertdien dié liedjie sing kom alles stukkie vir stukkie terug en ervaar ek genesing. Tenspyte van als, is ek dankbaar vir die omstandighede waarin die Here my geplaas het. Alhoewel “Maak dit nie seer” uit my pen gekom het, is elke woord deur Jesus in my hart geplaas.

“Maak Dit Nie Seer” is tans beskikbaar “Kobus Muller – Alles En Meer” wat deur Nextereo Records vrygestel is. Die liedjie is ook op iTunes, Google Play en ander aanlyn winkels beskikbaar.

Besoek gerus www.KobusMuller.co.za of www.NextereoRecords.com vir meer inligting.

Kobus se nuutste album is “Summer’s Leaving wat verskeie van sy Internasionale liedjies bevat. Kry hom gerus vanaf 25 Augustus 2017


KOBUS MULLER
(W) www.KobusMuller.co.za
(E) info@kobusmuller.co.za
(F) www.facebook.com/kobusmullerfanpage

Bron: https://voelgoed.co.za/ek-aangeneem-kind-%E2%80%A6

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *